???Die toenemende belangstelling van argitekte en professionele persone in huisbou in die ontwerp en konstruksie met hout het die Wood App-span aangespoor om 'n een-dag werkswinkel oor houtraamontwerp en -konstruksie later vanjaar in Stellenbosch, Pretoria en Durban te organiseer.
Die Wood App word ondersteun deur die universiteit, nywerheidsverenigings en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DTIC). Dit bied gratis aanlyn kursusse en CPD-geakkrediteerde opleiding in houtkonstruksie.
?
Dr Philip Crafford, die organiseerder van die geleentheid, sê hulle was verras deur die enorme belangstelling ná die aankondiging van die werkswinkels.
"Die reaksie op die Wood App en die een-dag werkswinkels is opwindend. Argitekte, bou-omgewingspesialiste, bouers, universiteite wat ingenieurswese, industri?le ontwerp en tegnologieprogramme aanbied, en hul studente begin al hoe meer die koolstofvoordele van hout raaksien," sê Crafford.
"Ons is opgewonde oor die belangstelling in die kursus. Daar was byvoorbeeld 150 aansoeke vir die Stellenbosch-werkswinkel, maar ongelukkig kon ons slegs 80 mense akkommodeer. Hou gerus dop vir nog 'n werkswinkel in die Wes-Kaap binnekort."
Tafadzwa Nyanzunda van die DTIC het die Stellenbosch-werkswinkel geopen, terwyl haar kollega July Mokoena die Pretoria-gebeurtenis ingelei het. Pieter Silberbauer het die Stellenbosch-werkswinkel gefasiliteer en Werner Slabbert Jnr dié in Pretoria. Die inhoud was gebaseer op die aanlyn kursusmateriaal.
Die Wood App beplan om gedurende die jaar nog CPD-geakkrediteerde een-dag werkswinkels oor dekbou, houtgradering, houtpale en CLT-ontwerp en -konstruksie aan te bied. Besoek www.theWoodApp.com vir meer inligting oor toekomstige werkswinkels en kursusse.