肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons kan saam kragtiger dinge doen, sê nuwe Universiteit Stellenbosch-rektor
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 01/04/2025

?"Dit is 'n baie goeie universiteit wat reeds wêreldwyd vir sy navorsingsuitnemendheid erken word. Maar daar is kragtiger dinge wat ons kan doen en groter ambisies wat ons kan hê – saam. Dít kan meebring dat ons selfs 'n groter impak op die samelewing het."

Prof Deresh Ramjugernath (52), die 13de Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het vanoggend (1 April 2025) amptelik sy nuwe amp aanvaar.

Hy neem die leisels by prof Wim de Villiers oor, wie se tweede termyne aan die stuur van die US gister ten einde geloop het.

"Stellenbosch het 'n trotse geskiedenis van uitnemendheid in leer en onderrig. Onder prof De Villiers het ons ook 'n sterk navorsingsintensiewe universiteit geword. Maar ons kan nie selfingenome wees nie. Ons moet nou van goed na groots beweeg en voortdurend daarna streef om ons onderrig, navorsing, innovasie en sosiale impak te verbeter."

Ramjugernath, 'n gesoute en hoogs ervare ho?ronderwysleier met uitgebreide senior uitvoerende ervaring in die sektor in Suid-Afrika, dien sedert Januarie 2021 as die Viserektor: Leer en Onderrig aan die US.

Akademiese sukses

Hy was 'n baie bekwame krieketspeler toe hy jonger was ('n veelsydige speler wat met kolf en bal uitgeblink het) en weet maar al te goed hy sal baie moeilike balle die slag moet bied as die hoof van een van Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteite.

In die ho?r onderwys vorder jy nie as 'n instelling as jy net verdedigend speel nie, sê Ramjugernath. "Jy moet 'n dapper, groot wedstryd speel. Vir my sal daardie dapper stap vir ons wees wanneer Stellenbosch die eerste Afrika-universiteit word wat onder die top-100 universiteite wêreldwyd verskyn.

"Hierdie ambisieuse doelwit van wêreldwye uitnemendheid behoort egter nie die enigste doel te wees nie. Stellenbosch se 'bevordering van kennis in diens van die samelewing' – om ons visie gedeeltelik aan te haal – moet wees waarna ons almal streef. Dit is in die lig van die baie geraas daar buite oor wat universiteite kan en behoort te wees. Om daardie doelwit te bereik, moet ons eerstens op die akademiese projek fokus, en om te verseker dat ons die beste akademiese aanbiedinge het."

Dit is waarom Ramjugernath akademiese uitnemendheid as een van sy drie fokusgebiede vir die volgende paar jaar beskou – met die ander twee wat mense, kultuur en prosesse en vennootskappe en volhoubaarheid is.

"Een van ons grootste uitdagings sal ongetwyfeld volhoubaarheid wees. Dit sluit finansi?le, maatskaplike en omgewingsvolhoubaarheid in. Kwessies rondom finansiering – veral NSFAS en studenteskuld – is destabiliserend. Daarmee saam gaan die wanopvatting dat 'n universiteitsgraad die enigste pad na sukses is, wat universiteite verder belas. Terselfdertyd moet universiteite meer doen om gegradueerdes nie net met tegniese kennis toe te rus nie, maar ook met vaardighede, bevoegdhede en eienskappe vir indiensneembaarheid. Daarom sal ons akademiese vernuwing by die US voortsit.

"En 'n groot deel hiervan sal die idee van toekomsbestendigheid deur tegnologie wees. Dit is nie opsioneel om kunsmatige intelligensie, digitale transformasie en hibridiese leer te omarm nie – dit is noodsaaklik. Dit is die enkele grootste geleentheid om ho?r onderwys te verbeter."

Die feit dat hy die afgelope vier jaar vir die portefeulje van studentesake verantwoordelik was, het hom bykomende insig in die lewens van studente gegee. "Ons moet selfs meer studentegesentreerd word, want studentesukses en die indiensneembaarheid van ons gegradueerdes is vanuit 'n leer- en onderrigperspektief die hoogste prioriteit.

Ons wil 'n akademiese omgewing skep waar elke student, ongeag hulle sosio-ekonomiese agtergrond, die nodige hulpbronne, mentorskap en geleenthede het om te kan floreer. Ek glo universiteite moenie net opvoed nie, maar ook bemagtig om te verseker dat elke student tot Suid-Afrika se ontwikkeling, ekonomiese groei en algehele welstand kan bydra.

Daarom strek ons verbondenheid verder as akademiese prestasie. Terwyl ons werk om groter skenkerfinansiering te bekom, nuwe vennootskappe te sluit en bestaande vennootskappe te versterk, is ons daartoe verbind om 'n toekoms te bou waar elke student toegang tot holistiese ondersteuning het – akademies, finansieel, sielkundig en professioneel. Hierdie omvattende benadering tot studentesukses weerspie?l ons oortuiging dat onderwys nie bloot 'n pad na indiensneming is nie, maar 'n katalisator vir positiewe sosiale verandering."

Mense, kulture en prosesse

"Die wêreld – en daarmee saam die wêreld van werk – is besig om te verander. Daarom wil ek ook op die bevordering van 'n vermenslikte en bemagtigende kultuur by die Universiteit fokus. Ek wil mense, kultuur en stelsels prioritiseer wat almal by die US sal laat floreer.

“Om die beste in mense na vore te bring, is 'n kwessie van inter-, multi- en transdissiplinêre samewerking, meen Ramjugernath. "Van die grootste deurbrake wat ons nou sien, is die resultate van interdissiplinêre navorsing – deur 'n gevoel van spanwerk te bevorder. Dit is hoe ons die 'boosste probleme' in die wêreld aanpak.

"Ons kan net een van die grotes wees indien ons saamwerk en, wat nog belangriker is, indien ons almal saam vorentoe beweeg. Ek glo in 'n vars, diensgerigte benadering tot leierskap. Ek lei deur my voorbeeld – as ek akademiese uitnemendheid verwag, moet ek self die voorbeeld stel. Leierskap gaan vir my oor diens, nie status nie. Dit gaan daaroor om ander te bemagtig – om mense agentskap te gee en hulle te help om hulle potensiaal te verwesenlik, net soos ander vir my gedoen het."

 


Vennootskappe en volhoubaarheid

"Universiteite kan nie in isolasie floreer nie. Strategiese vennootskappe is die sleutel tot volhoubaarheid en open deure vir geleenthede. Ons moet ons verskillende inkomstestrome verder tot voordeel van alle vennote verhoog.

"Ek brei onder meer ons internasionaliseringsagenda uit. Dit gaan egter nie net oor samewerking met ander universiteite nie, maar ook met die regering, die burgerlike samelewing en nywerhede en bedrywe – beide plaaslik en wêreldwyd. Om dit te ondersteun, gaan ons 'n vennootskapskantoor stig om pogings te ko?rdineer terwyl kampvegters regoor die Universiteit bemagtig word.

"Ons moet in dit alles nie ons unieke omgewing vergeet nie, sê Ramjugernath. "Stellenbosch is bekend as die innovasiehoofstad van Suid-Afrika – 'n Afrika-ekwivalent van Silicon Valley. In ons werk, ons onderrig, ons navorsing en ons sosiale impak moet ons 'n entrepreneuriese ingesteldheid inneem. In 'n groot mate is dit waaroor inklusiewe transformasie gaan – dit beteken om te behoort, verteenwoordiging en groei. Dit gaan oor die bou van 'n werklik diverse, inklusiewe, multikulturele en veeltalige instelling waar ons nooit selfingenome word nie, maar voortgaan om te verander, te verken en te ontdek. Transformasie gaan oor die bevordering van 'n kultuur wat die beste in almal na vore bring."

Skouer aan die wiel

'n Universiteit is slegs groots wanneer hy die ondersteuning van al sy belanghebbers het, sê Ramjugernath. "Ek glo vas ons het die vermo? en ek is opgewonde om nou met die ondersteuning van my bestuurspan en ons ongelooflike personeel, ons Raad, ons alumni, ons donateurs en die vele ander belanghebbendes, vennote en vriende van ons geliefde Universiteit skouer aan die wiel te sit. Kom ons bou saam aan m?re – een gesprek, een deurbraak, een manhaftige daad op 'n slag."

---

Die voorsitter van die Raad, dr Nicky Newton-King, sê die Raad is opgewonde oor Ramjugernath se kragtige visie vir die Universiteit waar akademiese uitnemendheid, mense en vennootskappe die middelpunt is. "Prof Ramjugernath betree hierdie rol op 'n uitdagende tydstip vir alle ho?ronderwysinstellings. Terselfdertyd is daar groot geleenthede om die Universiteit Stellenbosch, sy akademici en studente vir akademiese prestasie op die hoogste vlak te posisioneer en om diep en volhoubare vennootskappe in Suid-Afrika, op die vasteland van Afrika en in die buiteland met ander ho?ronderwysinstellings en die private sektor te bou. Die Raad beskou prof Ramjugernath as 'n uitstekende akademikus en gesoute administrateur en sien uit na sy toesighouding oor ons spesiale instelling."

  • Prof Ramjugernath woon op Stellenbosch saam met sy vrou, prof Prathieka Naidoo, 'n bekwame akademikus in eie reg, en hulle drie dogters. Behalwe dat hy 'n hondeliefhebber en 'n ywerige sportliefhebber is wat tennis, padel en gholf speel, is Ramjugernath lief vir die buitelewe.

 

MEER OOR PROF DERESH RAMJUGERNATH

Voordat prof Deresh Ramjugernath na Stellenbosch verhuis het, was hy Viserektor: Navorsing en Pro-Visekanselier: Innovasie, Kommersialisering en Entrepreneurskap by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN).

Hy beskik oor uitgebreide direksie- en bestuurservaring nadat hy op verskeie maatskappydireksies en organisasierade gedien het.

Ramjugernath is 'n hoogsgerekende wetenskaplike op die gebied van chemiese ingenieurswese en spesifiek in chemiese termodinamika en skeidingstegnologie (hy het op 31-jarige ouderdom die jongste volle professor in sy vakgebied in Afrika geword). Hy het tot 2018 die DWT/NNS Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) vir Fluoorprosesingenieurswese en Skeidingstegnologie beklee.

Hy was die studieleier vir meer as 130 meestersgraad- en PhD-studente wat gegradueer het en het meer as 20 postdoktorale genote gelei. Daar het al meer as 350 eweknie-beoordeelde vaktydskrifartikels deur Ramjugernath verskyn en hy het al het ten minste 300 referate by internasionale konferensies aangebied.

Ramjugernath het aan UKZN studeer en die grade BSc Ing (Chemies) in 1993, MSc Ing (Chemies) wat in 1995 opgegradeer is na 'n PhD, en 'n PhD in Chemiese Ingenieurswese in 2000 verwerf.