Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) was verlede week met 'n gees van doelgerigtheid en optimisme gevul toe die Universiteit Stellenbosch (US) die tweede kohort van sy SUNRISE-program (Universiteit Stellenbosch Strategiese Uitnemendheid in Navorsing en Innovasie) amptelik van stapel gestuur het.
Die inisiatief, wat akademici in die middel van hulle loopbaan op die pad na professorskap ondersteun, het formeel 29 nuwe genote verwelkom, wat die totaal op 60 in die tien fakulteite en die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke te staan bring.
Senior universiteitsleiers, insluitende die nuutaangestelde Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Sibusiso Moyo, en prof Jackie du Toit, raadgewer van die SUNRISE-program en leier van die nasionale Program vir Toekomstige Professore Fase 01 het die gasspreker bekendgestel.
Die geleentheidspreker was prof Jonathan Jansen, uitgelewe professor in die opvoedkunde en onlangse ontvanger van die Amerikaanse Opvoedkundige Navorsingsvereniging se gesogte toekenning vir lewenslange bydrae.
'n Strategiese weddenskap op die toekoms
Met die opening van die geleentheid het Moyo 'n gehoor van dekane, visedekane, departementshoofde, senior vakkundiges en navorsingsgenote verwelkom en hulde gebring aan die talle akademici en professionele personeel wat vir die SUNRISE-program se groeiende sukses verantwoordelik is.
"Ons sien vandag die groei en die momentum wat hierdie program in net meer as 'n jaar bereik het," het sy gesê. "SUNRISE ondersteun belowende akademici in die middel van hulle loopbaan op 'n duidelike pad na professorskap. Hoewel baie van julle sonder hierdie program professore kan word, speel dit 'n kritieke rol om jou te help om dit met volhoubare intellektuele projekte van wêreldgehalte te doen wat vir die samelewing saak maak."
SUNRISE, wat op die Departement van Ho?r Onderwys en Opleiding se Toekomstige Professore-program geskoei, maar aangepas vir die Universiteit se institusionele behoeftes is, poog om die US se navorsingskultuur in 'n tyd van oorgang te versterk.
Die inisiatief, wat bestuur word deur Ronel Steyn onder leiding van dr Therina Theron van die Afdeling Navorsingsontwikkeling, bied aan genote beskermde tyd vir vakkundigheid, mentorskap en die geleentheid om sinvol tot 'n samewerkende, kruisdissiplinêre akademiese gemeenskap by te dra.
Die eerste groep het reeds tasbare sukses getoon. Binne 'n jaar is drie vakkundiges tot medeprofessor bevorder en vier het nuwe NNS-graderings ontvang. Altesaam 28 SUNRISE-genote is nou gegradeerde navorsers, baie met Y-graderings, wat op sterk ontluikende talent dui.
'n Kragtige visie vir 'n top-100 universiteit
Ramjugernath het die genote vir die eerste keer in sy nuwe rol as Rektor en Visekanselier toegespreek en 'n ambisieuse visie vir die toekoms van die US uiteengesit – geanker deur akademiese uitnemendheid, holistiese transformasie en langtermynvolhoubaarheid.
"SUNRISE is nie bloot 'n leierskapontwikkelingsinisiatief nie," het hy opgemerk. "Dit is 'n strategiese, toekomsgerigte belegging in die wese van ons akademiese onderneming. Terwyl baie van ons mees senior professore vir aftrede voorberei, het ons 'n kragtige geleentheid om ons professoraat met doelgerigtheid, voorneme en diversiteit in sy kern te verjong."
Ramjugernath het na sy eie reis van 'n jong akademikus op 23-jarige ouderdom tot 'n volle professor op 31 verwys, en het passievol oor die krag van mentorskap in akademiese vorming gepraat. "Mentors is van uiterste belang. Hulle leer jou nie net hoe om sukses te behaal nie, maar hoe om die foute wat hulle reeds gemaak het, te vermy. En ek wil elkeen van julle aanspoor om – wanneer die tyd aanbreek – dieselfde vir ander te doen."
Hy het ook sy langtermyn-ambisie vir die US herbevestig: om Afrika se eerste top-100 universiteit in die wêreld te word. "Dit is nie 'n slagspreuk nie, dit is 'n oproep tot aksie. SUNRISE help ons om daar te kom deur die intellektuele leierskap te bou wat ons nodig het," het hy beklemtoon
Filantropie en die vakkundigheid van vrygewigheid
Du Toit het in haar toespraak hulde gebring aan uitgelese professor Pumla Gobodo-Madikizela, wat verlede jaar R1 miljoen aan die SUNRISE-program geskenk het nadat sy die Templetonprys ontvang het.
Hierdie geskenk het op 'n baie gele? tyd gekom, het Du Toit gesê. "Dit stel die program in staat om 'n 'vakkundigheid van vrygewigheid' te handhaaf en dit spoor ons aan om met welwillendheid, samewerking en toewyding te lei."
Sy het ook die prestasies van dr Yaseera Ismail, 'n genoot van die Toekomstige Professore-program en SUNRISE-geaffilieerde, beklemtoon wat onlangs die medeskrywer van 'n belangrike Nature-artikel oor kwantumsatellietkommunikasie was. "Haar werk herinner ons aan wat moontlik is wanneer ons in potensiaal belê," het Du Toit opgemerk.
Du Toit het in haar bekendstelling van Jansen sy wêreldwye statuur en sy dekades lange toewyding aan akademiese ontwikkeling geloof. "Jonathan se nalatenskap leef voort in die belofte wat hierdie program inhou en word vanaand in die gesigte van ons twee SUNRISE-kohorte weerspie?l," het Du Toit gesê.
Jansen het in sy energieke hoofrede die nuwe SUNRISE-genote uitgedaag om nie net na professorskap te streef nie, maar na ware wetenskaplike uitnemendheid. "Enige iemand kan 'n professor wees," het hy geskerts, "maar ek praat daarvan om 'n vakkundige te wees, iemand wat baie diep oor hulle vakgebied nadink." Hy het jong akademici aangemoedig om die versoeking te weerstaan om "ploeteraars" te word wat slegs op titels of posisies fokus, en eerder 'n ingesteldheid van diepe weetgierigheid en intellektuele ambisie te kweek. "Jou doel moet wees om die diepgaande filosofiese vrae te vra, dié wat werklik in jou vakgebied saak maak, en nie net die operasionele vrae nie." Vir Jansen is dit hierdie meedo?nlose weetgierigheid en strewe na betekenis wat uitstaande geleerdes van die bloot bekwame onderskei.
Afgesien van die kweek van intellektuele diepte, het hy die genote aangemoedig om deur dapper, uitwaartse betrokkenheid na groei te soek. "Jy moet saam met die regte mense uithang," het hy gesê. "As jy in jou klein borrel bly, sal jy nooit groei nie. Gaan oorsee, ontmoet die bestes op jou gebied, want hulle sal jou verder laat dink en uitdaag." Hy het 'n beroep op die akademici gedoen om buite vakkundige grense te dink, wyd te lees en 'n werksritme te ontwikkel wat produktiwiteit handhaaf. Jansen het bowenal beklemtoon dat die rol van 'n professor is om onbekende terreine te verken: "Jy moet vrae vra wat niemand anders al gevra het nie," het hy afgesluit.
SUNRISE as strategie in aksie
Sprekers het deur die loop van die aand herhaal dat SUNRISE nie 'n ge?soleerde program is nie, maar 'n kruisinstitusionele projek gegrond op gedeelde verantwoordelikheid. "Dit is nodig dat dekane, departementshoofde, administrateurs en eweknie? daarin inkoop en dit ondersteun," het Ramjugernath gesê. "Die sukses daarvan hang van ons kollektiewe verbintenis tot die volgende generasie akademiese leiers af."
Hy het 'n laaste aanmoediging aan die nuwe groep genote gegee: "Julle is uit 80 hoogs mededingende aansoeke gekies. Dit sê iets oor jou kaliber, maar nog belangriker, dit sê iets oor jou belofte. Die Universiteit Stellenbosch staan by jou. Kom ons vorm saam die dag van m?re."
FOTO: Stefan Els