Met ons jaarlikse reeks #dagindielewe, wat in Mei ter viering van Werkersdag verskyn, vestig ons spesiaal die aandag op ons personeellede by die Universiteit Stellenbosch (US). Vanjaar stel ons jou bekend aan professionele administratiewe steundienstepersoneel wat 'n tasbare verskil in studente se lewens maak.
Elmarie Kruger, 'n senior voorligtingsielkundige in die US se Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling, vervul 'n kernrol om studentewelstand by ons instelling te ondersteun. Dié US-alumna vertel ons meer oor haar werk.
Wat behels jou werk by die US?
Ek werk in die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste (EPOD), wat deel uitmaak van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO). Ons werk draai om studente se geestesgesondheid en welstand. Die Eenheid voorsien psigoterapie aan studente wat by die SSVO om sielkundige hulp aanklop. Ek is soms ook betrokke by opleidingsessies in studentegeestesgesondheid vir sowel studente as personeel, die fasilitering van ontwikkelingsessies vir verskillende studentegroepe, en die ondersteuning van ander SSVO-projekte.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk?
My dag bestaan grotendeels uit individuele terapiesessies met studente. Kwessies waarmee studente ondersteuning nodig het, sluit in die hantering van lewenstres, ingewikkelde verhoudings, selfbeeld en identiteit, vorige of huidige trauma, en verskeie geestesgesondheidsuitdagings.
Dan dien ek ook as ko?rdineerder en toesighouer vir Sielkunde-interns wat as deel van hulle meestersgrade hulle prakties by die SSVO voltooi, en vir Arbeidsterapie-finalejaarstudente wat vir hulle geestesgesondheidsrotasie by EPOD geplaas word. Om 'n sielkundige te wees en by die US te werk behels boonop heelwat administrasie, navorsing, en vergaderings met kollegas.
Ek woon ook self opleidingsgeleenthede by om te sorg dat ek aanhou leer en groei – persoonlik én professioneel.
My dag kan by tye nogal druk en bedrywig wees, maar dis vol menslike interaksie, waarvoor ek lief is, en ek werk in 'n besonder ondersteunende omgewing.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir dié werk voorberei??
Ek het 'n meestersgraad in Voorligtingsielkunde verwerf en my jaar lange internskap by die Universiteit van die Vrystaat se Afdeling Studentevoorligting voltooi. Sedertdien werk ek nog my hele loopbaan lank in studentevoorligting in die ho?r onderwys. Voordat ek by die US aangesluit het, het ek vir 11 jaar by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie gewerk. Ek is ook 'n lid van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Voorligting en Ontwikkeling in die Ho?r Onderwys, waar ek gedagtes en beste praktyk met ander beroepslui in die sektor kan uitruil.
My werk vereis dat ek empaties, onbevooroordeeld en 'oop' sal wees wanneer ek luister na die kwessies wat my kli?nte na hulle terapiesessies toe bring. Ek het geleer dat elke persoon se verhaal sy eie is, en ons moet respek hê vir die pad wat hulle gestap het én vir waar hulle nou in hulle lewe is.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek is dankbaar dat ek daagliks met studente kan werk, en op so 'n persoonlike en intieme vlak. Ek bewonder studente se veerkragtigheid en volharding – hoe hulle daarna streef om suksesvolle, produktiewe lede van die samelewing te word, dikwels ondanks swaarkry en uitdagings. Dit is 'n voorreg om soveel verhale te kan beleef, elkeen uniek en spesiaal op sy eie manier.
Ten spyte van 'n beperkte begroting, voorsien die US en die SSVO steeds 'n ondersteunende en instaatstellende omgewing met genoeg hulpbronne om 'n diens van gehalte te kan lewer. Om 'n multidissiplinêre span te hê wat hierdie tipe gratis en vertroulike diens aan studente voorsien is van onskatbare waarde.
En wie sal dit nié geniet om op so 'n mooi dorp en in 'n lewendige gemeenskap te werk nie?
Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.
Ek geniet avontuur en die buitelewe. Ek is lief vir stap en het in my jong dae die Inka-staproete in Peru op 'n beperkte begroting voltooi. Dit was ongelooflik om 'n ander kultuur te ervaar. Die Inka-nasie het in 'n tyd lank voor tegnologie verstommende strukture gebou om in hulle behoeftes te voorsien. Ek het ook verwonderd gestaan oor hoe die plaaslike portiers teen die gladde, steil berg op- en afgeklim het. Hulle het soms misgetrap en so byna geval, maar het in 'n oogwink hulle balans herwin en rats aanbeweeg, sonder om eens 'n oomblik te aarsel. Hulle was 'n goeie voorbeeld van 'vorentoe val' – iets wat ons almal dalk beter kan leer doen: om onvolmaaktheid te aanvaar, op te hou om oor ons foute te tob, en dit eerder te gebruik as 'n geleentheid om te leer.
FOTO: Stefan Els