?Met ons jaarlikse reeks #dagindielewe, wat in Mei ter viering van Werkersdag verskyn, vestig ons spesiaal die aandag op ons personeellede by die Universiteit Stellenbosch (US). Vanjaar stel ons jou bekend aan professionele administratiewe steundienstepersoneel wat 'n tasbare verskil in studente se lewens maak.
As 'n privaatstudenteverblyfbeampte in die Studenteverblyfkantoor, help Lukho Mafuya studente 'n tweede tuiste vind. Hy sorg dat studente ondersteun word en nesskop sodat hulle op hulle akademiese reis kan floreer.
Wat behels jou werk by die US?
My werk behels die daaglikse bedryfsbestuur van die akkreditasieproses vir privaat verblyf op sowel Stellenbosch- as Tygerbergkampus. Dit vereis strategiese beplanning en verslagdoening, die hersiening en bywerking van akkreditasiekriteria, en die verbetering van die akkreditasieproses deur die integrasie van tegnologie (stelsels en prosesse). Wanneer daar uitdagings of probleme met privaat verblyf opduik, moet ek dit ook hanteer.
Ek bestuur 8 000 geakkrediteerde privaat beddens, sowel as plasings, kansellasies en waglyste vir die US se Luister-, Leef- en Leer- en ons Pendelstudentegemeenskappe-huise. Laasgenoemde geskied ooreenkomstig die Universiteit se plasingsbeleid. Ek streef daarna om positiewe verhoudings met interne én eksterne belanghebbendes te bou.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk?
'n Tipiese dag begin met 'n sterk koppie koffie en e-pos lees. My werk is kli?ntgebaseerd, so vir die grootste gedeelte van die dag hanteer ek studente en verhuurders se navrae. Vir akkreditasieverwante sake kommunikeer ek ook gereeld met verhuurders, studente en ons Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings. Ek doen boonop terreininspeksies van privaat verblyf, woon vergaderings by, en voltooi administratiewe take met betrekking tot die verwerking van geakkrediteerde verblyf en koshuisplasings.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir dié werk voorberei?
Ek het in Kayamandi hier op Stellenbosch grootgeword en 'n honneursgraad in Publieke Administrasie aan die US verwerf. My opleiding en studie het my met goeie intra- en interpersoonlike vaardighede toegerus, wat my in staat stel om met uiteenlopende groepe mense te werk. Ek het ook projekbestuursvaardighede opgedoen, wat onontbeerlik is as jy 700 verskaffers van privaat verblyf moet bestuur. Daarbenewens vereis my werk uitstekende vaardighede in databestuur en belanghebbendeskakeling.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek is allereers dankbaar om te kan deel wees van die US-gemeenskap, wat diverse kulture erken en verwelkom. Die vreugde op studente se gesigte wanneer ek hulle in 'n Universiteitshuis plaas of vir hulle privaat verblyf opspoor, is ook baie bevredigend. Een van my passies is om ander te help, so wanneer ek ons studente sowel as verhuurders en agente bystaan, voel dit of ek my gemeenskap dien.
Voorts geniet ek dit om konferensies by ander instellings by te woon en die US se praktyke met ander te vergelyk, wat ook my professionele ontwikkeling bevorder.
Die ho?ronderwyssektor is 'n immer veranderende landskap, en ek hou daarvan. Die uitdagings en voortdurende verandering hou my gestimuleer en betrokke. Ek geniet dit om deel te wees van 'n groter doel.
Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.
Ek is 'n wedergebore Christen, en my geestelike tuiste is The Bay Christian Family Church, waar ek die voorreg het om weekliks lewensveranderende dienste by te woon. Deur my geloof het ek tuisgekom in 'n gemeenskap wat my al deur baie moeilike tye ondersteun het. Die guns en genade van God dra my al my lewe lank, van daardie tyd af toe ek in Kayamandi in 'n hut gewoon en 'n kamer met my twee jonger susters gedeel het. As kind in die township, het ek nooit kon droom dat ek eendag twee grade aan die US sou verwerf nie. Ek is ook 'n trotse ingeskrewe student vir 'n Nagraadse Diploma in Bedryfsbestuur en -administrasie by die Stellenbosch Bestuurskool, waarna ek 'n MBA in die visier het. ?l waarna ek as kind gestreef het, was om 'n werk te kry sodat ek my ouers en susters kon onderhou.
FOTO: Ubaid Abrahams