?Die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit, ook bekend as Internasionale Biodiversiteitsdag, word elke jaar op 22 Mei gevier. In ? meningsartikel vir die Cape Argus fokus prof Michael Samways van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie op die belangrikheid van insekte vir mense en ekosisteme.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
?Michael Samways*
Die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit, ook bekend as Internasionale Biodiversiteitsdag, word elke jaar op 22 Mei gevier. Die doel is om bewustheid oor biodiversiteitskwessies te verhoog en die belangrikheid van diere en plante vir die welstand van mense en die planeet te beklemtoon. Insekte speel veral 'n sleutelrol onder die diersoorte.
Insekte het ongeveer 479 miljoen jaar gelede uit 'n skaaldieragtige voorouer ontstaan en ongeveer 406 miljoen jaar gelede vlerke ontwikkel. Bewyse dui daarop dat hierdie vroe? vorms nou geassosieer was met die eerste landplante. Sedertdien het hulle tot die magdom insekte ontwikkel wat vandag gesien word.
Hulle sukses het ontstaan danksy 'n hoogs suksesvolle liggaamsplan wat uit drie hoofdele bestaan: die kop, bors en buik. Hulle harde buitenste skelet kan in verskeie vorms aangepas word, wat hulle in staat stel om uiteenlopende hulpbronne te benut en 'n wye verskeidenheid lewenstyle te ontwikkel. Baie van hulle sukses is te danke aan groot genetiese buigsaamheid sowel as die vermo? om te vlieg.
Van die ongeveer twee miljoen bekende spesies op aarde is ongeveer die helfte insekte. Na beraming wag daar nog ongeveer 4,5 miljoen insekspesies om ontdek te word.
Onlangse fassinerende genetiese navorsing het getoon dat daar vir elke bekende spesie wat ons aan hulle struktuur kan identifiseer, eintlik verskeie genetiese spesies is wat ons nie visueel kan onderskei nie. Dit dui daarop dat daar wêreldwyd soveel as 21 miljoen insekspesies kan wees.
Daar word ook beraam dat daar vandag ongeveer 10 kwintiljoen (10 miljard-miljard) insekte op enige tydstip lewe. Dit beteken daar is meer as 'n miljard insekte vir elke mens en die totale massa inseklewe is 70 keer groter as alle mense saam. Hierdie groot syfers beklemtoon die belangrike rol wat insekte speel om die natuurlike omgewing en ekostelsels gesond te hou.
Meer as 97% van blomplante is van insekte afhanklik vir bestuiwing en saadproduksie. Ongeveer 87 van die wêreld se voorste voedselgewasse, wat ongeveer 35% van gewasproduksie wêreldwyd verteenwoordig, is van bestuiwing afhanklik om vrugte te dra. Op hulle beurt eet insekvretende vo?ls jaarliks 400 – 500 miljoen ton insekte. Klein soogdiere, soos muise, is afhanklik van 'n oorvloed insekte om gesondheid te handhaaf. Wanneer hulle insekprooi skaars word, verswak hulle welstand.
Hierdie syfers en perspektiewe dui aan dat insekte noodsaaklik is om die wêreld soos ons dit ken, in stand te hou, maar nie alle insekte is vriendelik teenoor ons nie. Sommige insekte eet ons gewasse, selfs in die stoor, terwyl ander ons bloed en dié van ons vee suig. Sommige peusel aan ons houtstrukture en val ons huise binne.
So, hoe onderskei ons die goeies van die slegtes? Ons het die meeste insekte nodig, maar kan sonder die res, die plae klaar kom. Die meeste insekplae is wetenskaplik bekend. Met toenemende kennis van hulle biologie en verbeterde tegnologie? – op die gebied van genetika veral – word die weg gebaan vir meer doelgerigte benaderings om dit te beheer.
Hierdie nuwe benaderings is baie spesifiek vir elke plaag en vermy skade aan voordelige goeie insekte, ander lewensvorme en selfs mense. Hierdie tegnologie? stel ons in staat om weg te beweeg van skadelike plaagdoders wat die omgewing en ons gesondheid be?nvloed.
Ander doelgerigte benaderings sluit die gebruik van voordelige insekte in om skadelike insekte te beheer. Dit staan as biologiese beheer bekend en vind hoofsaaklik in die landbou- en bosboudomeine plaas. Gespesialiseerde klein perdebye wat nie mense benadeel nie, vind en parasiteer die plaag, wat die getalle laat afneem. Ons sien selde hoe hierdie miljoene klein helpers hulle werk doen.
Biologiese beheer word ook gebruik om landbou meer biodiversiteitsvriendelik te maak. Dit word gedoen deur kolle natuurlike plantegroei aan die buitekant van gewaslande te hou. Hierdie natuurlike plantegroei het blomme waarop wyfies van parasitiese perdebye voed om hulle eiers te ontwikkel. Die volwassenes beweeg daarna tussen die gewasse in en beheer die plaag deur daardie eiers op of binne die plaaginsek te lê.
Plantegroei kan tussen produksierye van gewasse, soos wingerdstokke, geplant word. Hierdie metode moedig aktiwiteit van parasitiese perdebye en ander roofinsekte soos liewenheersbesies aan. Daar is ook nog 'n voordeel. Wingerde wat hierdie stroke plantegroei tussen die rye wingerde help om die grond te bewaar. Die aanplantings help om die grond klam en koel te hou.
Die plantegroei ondersteun ook baie ander insekte en hulle familielede om voedingstowwe terug in die grond te sit. Hulle doen dit deur aan die plantmateriaal te kou. Nadat die insekte die plantmateriaal versnipper het, breek ander organismes soos swamme en bakterie? die fragmente verder af en stel dit voedingstowwe aan die plante beskikbaar. Hierdie proses lei tot gesonde, lewendige grond.
Verskeie ander prosesse behels insekaktiwiteit, veral dié wat die stabiliteit van plantgemeenskappe handhaaf. Daarom is dit noodsaaklik om soveel natuurlike plantegroei as moontlik te bewaar om 'n gesonde omgewing tot almal se voordeel te handhaaf.
Onlangse navorsing dui duidelik aan dat natuurlike omgewings ons goed laat voel en noodsaaklik is vir ons welstand. Wanneer ons hierdie omgewings waardeer en ons goed voel, gee ons meer om. Hoe meer ons omgee, hoe meer sal ons biodiversiteit wil bewaar. Dit is 'n positiewe terugvoersiklus wat ons en al die kompleksiteit van die lewe bevoordeel, met insekte as sentrale rolspelers.
*Michael Samways is 'n uitgelese emeritusprofessor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch
?