?Die onthulling van 'n permanente installasie ter ere van die oorlede wetenskaponderwyser Walter Parry by die Ou Lückhoff-skool in Stellenbosch op 22 Mei verteenwoordig 'n diep roerende mylpaal in die Universiteit Stellenbosch (US) se voortgesette reis van restitusie en transformerende sosiale impak.
Dit het plaasgevind in 'n gebou deurdrenk met historiese betekenis. Die skoolgebou, eens die hart van Die Vlakte – 'n lewendige, oorwegend “kleurling"-buurt in sentrale Stellenbosch – is aan die US gegee 'n paar jaar nadat hierdie hegte gemeenskap gewelddadig ontwortel is deur apartheid se Groepsgebiedewet. Meer as 3 700 mense is gedwing om te trek van strate soos Muller, Banhoek, Ryneveld en Smuts, en is hervestig in plekke soos Cloetesville en Idasvallei.
In 2007 is die gebou simbolies hertoegewy aan sy oorspronklike gemeenskap onder die Rektor en Visekanselier prof Russel Botman, en in 2019 het dit die terrein geword van 'n seremoni?le teruggee van skoolbanke onder sy opvolger, prof Wim de Villiers. Dit het gelei tot die skepping van die Lückhoff Lewende Museum, wat ontwikkel word in 'n ruimte vir herinnering, genesing en dialoog – 'n inisiatief wat voortgaan onder die US se huidige Rektor, prof Deresh Ramjugernath.
Die onthullingsgeleentheid het lede van die Parry-familie, oudleerlinge van die skool, gemeenskapslede en US-verteenwoordigers bymekaar gebring om te besin oor die lewe en nalatenskap van 'n merkwaardige opvoeder. Die installasie is die jongste in 'n reeks stappe deur die US om Parry te vereer. In 2024 is die inwydingsrede? van die jaarlikse Walter Parry-gedenklesing gehou – ook op sy verjaardag – en in Januarie vanjaar het die Universiteit 'n nuwe studentekoshuis Huis Walter Parry genoem.
Veelkantige huldeblyk
Die idee om 'n herinneringsruimte by die ou skool te skep, is voorgestel deur Otto van Noie, 'n voormalige Lückhoff-leerling, onderwyser en gemeenskapsaktivitis wat sedertdien oorlede is. Renée Hector-Kannemeyer, Adjunkdirekteur van die US se Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie (CASIT), het gehelp om dit te ontwikkel tot 'n voorstel wat goedgekeur is deur US se befondsingskomitee vir sosiale impak.??
“Ons wou Walter Parry nie net as 'n wetenskaplike vereer nie, maar ook as 'n man, 'n vader, 'n onderwyser – iemand wat met integriteit geleef het en sy gemeenskap gedien het in 'n tyd van diepe vyandigheid en ongeregtigheid," het Hector-Kannemeyer by die onthulling gesê.
Die installasie van drie panele bestaan uit 'n biografiese oorsig van Parry, 'n kunstenaar se illustrasie van hom, en tonele van die inwydingslesing in 2024. Dit is ontwerp deur Monique Biscombe, 'n PhD-kandidaat in Visuele Kunste aan die US en dogter van die oorlede Stellenbosse skrywer en aktivis Hilton Biscombe, met insette van die Lückhoff-alumnivereniging en die Parry-familie.
Wie was Walter Parry?
Walter Hazell Parry is in 1913 in Distrik Ses, Kaapstad, gebore en was 'n begaafde student wat in 1934 sy MSc in Fisika cum laude aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het. Ten spyte van sy akademiese briljantheid het apartheidswette hom van die geleentheid ontneem om voort te gaan met 'n doktorsgraad of 'n formele akademiese loopbaan. Hy het in plaas daarvan 'n wiskundeonderwyser geword, en het by die Ho?rskool Lückhoff in Stellenbosch onderrig gegee vanaf 1952 tot met sy ontydige dood in 1966.
“Onderwysers by die skool wat deur hom onderrig is toe hulle leerlinge was, onthou hom omdat hy altyd goed voorbereid was vir sy lesse," het Chris Jooste, die huidige hoof van die Ho?rskool Lückhoff, gesê. Die skool bestaan vandag steeds en is nou in Idasvallei gele?.
Parry se passie vir wetenskap het verder as die klaskamer gestrek. Hoewel hy nooit formeel aangestel is nie, het hy stil-stil personeel en studente by die US bygestaan – hy het dikwels studente agter geslote deure onderrig en met fisici saamgewerk, insluitend die toenmalige Departementshoof prof Piet Zeeman, aan vroe? eksperimentele projekte gekoppel aan die Kerninstituut van die Suidelike Universiteite (vandag bekend as iThemba LABS). Dit in 'n tyd toe die US 'n slegs-blanke instelling was.
Die onregte waaraan hy onderwerp was, het hul merk gelaat. “Apartheid het Walter en ons almal seergemaak," het Wilfred Daniels, ondervoorsitter van die Lückhoff-alumni, gesê. “Hy was soms gefrustreerd en ongelukkig, maar hy het aan onderrig toegewy gebly."
Familie-stemme en refleksie uit die gemeenskap
In 'n onderhoud nadat sy gehelp het met die onthulling van die installasie, het sy dogter, Elizabeth Vergotine, nou 82, die warmte van die Parry-tuiste onthou, 'n huis vol boeke. Hy en sy vrou, Winifred Edna Heneke, het agt kinders gehad – van wie vyf onderwysers geword het. “Solank daar kinders is om te onderrig, moet daar onderwysers wees," het sy een van haar pa se sêgoed onthou.
Vergotine het gesê sy was geraak om te sien dat die Universiteit nie net haar vader vereer nie, maar ook self transformeer: “Verlede jaar by die eerste lesing was ek aangenaam verras – daar was soveel akademici en studente wat nie in die verlede daar sou gewees het nie. Dit het my so gelukkig gemaak. Die US wend 'n daadwerklike poging aan sodat kinders van Stellenbosch nie elders heen hoef te gaan nie."
Haar seun, Benito Vergotine, 'n aanbieder op Smile FM, het soortgelyke waardering uitgespreek: “Hierdie wonderlike huldeblyk en eer vir my oupa beteken ontsettend baie vir ons familie."
Calvyn Gilfellan, Uitvoerende Hoof van die Kasteel die Goeie Hoop se beheerraad in Kaapstad en 'n lid van die strategiese liggaam Lückhoff Visuele Regstelling as Restitusie, het gesê: “Ek wens die gees wat julle hier het, kan in al ons gemeenskappe oorgeplant word."
Restitusie in praktyk
Die installasie is 'n tasbare uitdrukking van die US se restitusieverklaring, wat in 2018 aangeneem is toe die Universiteit sy eeufees gevier het. In die woorde van prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel: “Restitusie sluit berou, belydenis en bekering in. Maar dit moet ook lei tot herstel, versoening en vreugdebetoon. Dit moet vreugdevolle, hoopvolle werk wees."
Die ou skoolgebou huisves 'n verskeidenheid gemeenskapsorganisasies en opvoedkundige aktiwiteite, en planne is aan die gang om die gebou aan 'n gemeenskapstrust oor te dra. Soos Hector-Kannemeyer verduidelik het: “Dit gaan nie net oor die gebou nie, maar om terug te bring wat verlore was – holistiese opvoeding, geestelike herstel, en 'n ruimte vir genesing van die liggaam, verstand en siel.
“As gevolg van hierdie werk, en goeie samewerking met gemeenskapsaktiviste soos Moegammad Kara, het ons gemeenskapslede gehad wat na vore gekom het met roerende vertellings van politieke trauma en persoonlike verlies en gesê het: 'Dit is ook m? storie'," het sy bygevoeg.
Die toekoms van wiskunde
Die seremonie het nie net teruggekyk nie – dit het ook vorentoe gekyk. Gepas het wiskunde- en wetenskaponderrig prominent in die program gefigureer, wat Parry se passie verbind het aan die huidige stand van opvoeding in Suid-Afrika.
Dr Benita Nel, 'n Lückhoff-alumna en Direkteur van die Wetenskapleersentrum vir Afrika aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het gepraat oor Parry se impak en die noodsaak om weer te belê in wiskunde in Suid-Afrikaanse skole. “Daar is leerders met die briljansie van 'n Walter Parry wat vandag nie wiskunde kan neem nie omdat hul skole dit nie meer aanbied nie," het sy gewaarsku. “Dit het ernstige implikasies vir die toekoms."
Opvoeding is lig
Die seremonie is afgesluit met die aansteek van 'n kers deur Parry se kleindogter Portia Brown. Dit was 'n eenvoudige dog kragtige daad, wat die skool se leuse opgeroep het: Opvoeding is lig.
Soos Daniels opgemerk het: “Parry het daardie lig in ons aangesteek, en nou moet ons dit brandend hou."
Die tweede jaarlikse Walter Parry-gedenklesing het later dieselfde dag (22 Mei) by die US se Fakulteit Teologie plaasgevind. Dit het geleerdes op die terrein van fisika, teologie, opvoedkunde en die gemeenskap byeengebring vir 'n bespreking getiteld “Academic Disciplines in Dialogue: Leveraging Science and Theology for Social Justice and Societal Impact". Dit is gemodereer deur die Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof Bertie Fielding.
- Beeld deur Stefan Els
- Desmond Thompson is 'n vryskutjoernalis.?