肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Erfenis is nie ’n goeie reisiger nie: Die 49 wat vertrek het en die 64 749 951 wat agterbly
Outeur: Dr Armand Bam
Gepubliseer: 28/05/2025
SA flag
Source: https://stock.adobe.com/za/images/south-africa-flag-waving-on-a-blue-sky-in-beautiful-clouds-horizontal-banner/539259397?prev_url=detail

Onlangs het 49 Suid-Afrikaners rustig hul tasse gepak, aan boord ’n vlug gegaan en asiel in die Verenigde State gekry. Nie omdat hulle staatloos of sonder die nodige dokumente is, of voor oorlog uitvlug nie, maar omdat hulle meen hulle voel nie meer veilig hier nie. Die wêreld het kennis geneem, sosiale media was aan die gons, en vir ’n oomblik het dit gelyk asof die optrede van ’n paar die stille vasberadenheid van vele sou negeer.

Kom ons wees eerlik: “Die 49” klink minder na ’n geskiedkundige gebeurtenis en meer na ’n gefaalde vervolg op Distrik 9. Dit is die tipe rolprent wat in le? teaters open en ’n beleefde handegeklap by ’n rolprentfees in Iowa verdien. En tog het dit op een of ander manier nasionale opskrifte oorheers asof 49 mense die einde van die Suid-Afrikaanse droom sou verteenwoordig.

Ja, die lewe in Suid-Afrika kan moeilik wees. Regtig moeilik. Ons dra die las van die geskiedenis, die las van ongelykheid, en die daaglikse sleur van “maak ’n plan” in die aangesig van beurtkrag, slaggate, en beleidslimbo. Maar ons dra ook iets anders – iets stilweg uitsonderliks: ’n soort hardnekkige hoop; ’n oortuiging, hoe gehawend ook al, dat dinge anders kan wees; dat hulle moet wees.

En ondanks alles bly mense steeds. Mense hét gebly. Laat ons nie vergeet van ’n tyd toe hierdie land op sy ergste was, daar vele was wat vervolg is, gevange geneem is, gemartel en vermoor is, nie vir wat hulle gevrees het kán gebeur nie, maar vir wat besig was om te gebeur. En tog het hulle geveg om hierdie plek beter te maak, nie vir hulself alleen nie, maar vir generasies wat hulle dalk nooit eers sou ontmoet nie.

Selfs vandag leef miljoene onder omstandighede veel erger as dié wat deur die 49 aangevoer word: Daar is townships met geen lopende water nie; die “blokke” sonder werklike veiligheid en sekuriteit; huishoudings waar honger ’n daaglikse besoeker is. En tog bly hulle. Hulle bou. Hulle glo.

Intussen kan mens net wonder, wat gebeur wanneer Donald Trump uiteindelik die waarheid besef dat nie alle migrante met kasserolle en Calvinistiese sjarme opdaag nie? Wat gaan julle, die 49, doen wanneer die rooi pette ophou glimlag en harde vrae begin vra oor Orania, Afrikaans, en regstellende aksie – in Amerikaanse styl? Die eerste teken dat nie alle Amerikaners die verhaal oor vervolging koop nie, is reeds daar: selfs die Episkopale Kerk, wat kwalik daarvoor bekend is dat hulle afgematte mense wegwys, het geweier om te help. Want erfenis kom nie altyd met ’n visumstempel nie. Dit bly agter in jou naam, jou aksent, jou Sondaggewoontes. En dit is moeilik om jou liefde vir “braai” of “sishanyama” te verduidelik as niemand om jou weet hoe om dit uit te spreek nie.

Ek is herinner aan hierdie waarheid, en die skoonheid van ons land, op die agtersitplek van ’n Uber, bestuur deur ’n man uit Rwanda wat alle rede gehad het om van sy verlede te vlug. “Dit is die land van geleenthede,” het hy met stille oortuiging gesê, “indien jy bereid is om dit te sien.”

Dit het my in my spore laat vassteek.

Omdat geleentheid, soos skoonheid, dikwels in die oog van die waarnemer lê, en die voorreg om hier te woon ons soms verblind vir die einste belofte wat die land inhou.

Aan daardie 49, ek wens julle opreg sterkte toe. Migrasie is so oud soos die mensdom en as jou gees werklik vrede aan die ander kant van die wêreld vind, hoop ek jy floreer. Laat ons egter nie julle landsverlating as edele weerstand bekroon nie. Laat ons nie voorgee dat wegloop met leierskap vergelyk kan word nie.

Leierskap lyk anders hier. Dit neem die gestalte aan van ’n onderwyser wat ná skool agterbly. ’n Verpleegster wat nog ’n uur voor haar skof opdaag. ’n Kleinsake-eienaar wat aanhou lone betaal selfs wanneer die boeke nie klop nie. Leierskap is die huishulp wat help om ’n ander gesin se kinders groot te maak sodat sy haar eie skool toe kan stuur. Dit is die alledaagse verbintenis om te bly en te bou, weer en weer.

Wat maklik vergeet word, veral as ons fokus op dié wat weggestap het, is waarvan hulle weggestap het. Nie net die moeilike kwessies nie, maar die skoonheid; die komplekse, morsige, asemrowende skoonheid van hierdie land. Hulle het berge en mielielande, hartseer en genesing, stryd en sang agtergelaat. Hulle het die einste identiteit agtergelaat wat hul voorvaders uit onbekende lande laat trek het, nie om te ontsnap nie, maar om te skep.

Daar is ’n stille waardigheid om te bly; om te bly wanneer dit makliker sou wees om te gaan; deur te kies om lief te wees vir ’n land wat jou nie altyd liefhet soos jy gehoop het nie. Dit is nie berusting nie. Dit is moed.

Dus, aan die miljoene wat agterbly – swart en wit: Dankie. Jy is die ware storie. Jy is nie in die nuusopskrifte nie, maar jy transformeer. Jy vlug nie – jy smee.

Aan die 49? Daar word geen aanstoot geneem nie. Weet egter net: terwyl jy groen weivelde in iemand anders se agterplaas gaan opsoek, is die grond hier, ofskoon onversetlik, steeds ryk aan moontlikhede. Jy moet net bereid wees om te dolwe.

Dr Armand Bam is Hoof van Sosiale Impak by die Stellenbosch Besigheidskool. Hierdie artikel het op 19 Mei 2025 in die Mail & Guardian on 19 May 2025 verskyn.