?Die oseaan-ekonomie stel die oseaan oop vir entrepreneurs, innoveerders en beleggers; vir klein en middelslagondernemings; en vir markte in Afrika en verder. Met goeie bestuur, inklusiewe toegang, aanspreeklikheid en deursigtigheid kan 'n moderne oseaan-ekonomie die wonders van die oseaan vir die generasies wat volg, bewaar. Só skryf dr Francis Vorhies, mededirekteur van die Afrika Wildlewe-ekonomie Instituut, in ? meningsartikel vir die Weekend Argus ter viering van Wêreld-oseanedag wat op Sondag 8 Junie gehou is.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Francis Vorhies*
Die tema vir Wêreld-oseanedag 2025, wat jaarliks op 8 Junie gevier word, is “Verwondering: Ondersteun dit wat ons onderhou". Die gashere, die Verenigde Nasies (VN) se Afdeling vir Oseaan-aangeleenthede en die Seereg, verduidelik hierdie tema as volg:
Die oseaan is ons wêreld se grootste wonderwerk, 'n o?nskynlik eindelose bron van voeding, potensiaal, wysheid en ontsag. Van die seelewe wat ons suurstof, medisyne en voedsel produseer, tot die natuurlike infrastrukture wat koolstof sekwestreer en kuslyne buffer, ondersteun elke diverse element van die oseaan – deur biodiversiteit én samestelling – die mensdom op talle maniere.
Die wonder van die oseaan se ondersteuning van die mensdom, en dus die noodsaak om sy hulpbronne volhoubaar te gebruik, is ook 'n kerntema van die VN se 2025 Oseaan-konferensie wat direk ná die Oseanedag-geleentheid in Nice, Frankryk, volg. 'n Hoogtepunt van die konferensie sal 'n aksiepaneel oor die bevordering van volhoubare oseaan-gebaseerde ekonomie? en veerkragtige kusgemeenskappe wees. Die konsepverslag wat deur die VN-sekretariaat vir hierdie paneel voorberei is, bevat inligting oor die ekonomiese bydrae van die oseane wat eenvoudig as ontsagwekkend beskryf kan word:
- Die oseaan-ekonomie verteenwoordig sowat 4% van die wêreldekonomie en het oor die afgelope twee dekades verdubbel en teen 'n vinniger tempo as die res van die wêreldekonomie gegroei.
- As die oseaan 'n land was, sou dit naas Frankryk en die Verenigde Koninkryk kon staan as een van die grootste ekonomie? ter wêreld, met 'n waarde van minstens $2,6 triljoen.
- Minstens 600 miljoen mense se lewensbestaan hang van die oseaan-ekonomie af.
- Internasionale handel in oseaangoedere en -dienste het rekordvlakke bereik.
- Groot sektore van die oseaan-ekonomie is direk gekoppel aan die gebruik van wilde mariene spesies, veral mariene-gebaseerde toerisme en primêre mariene visserye.
In Afrika is die wonder van die oseaan-ekonomie sy verstommende bydrae tot ekonomiese ontwikkeling en landelike lewensbestaan. Die Afrika-ontwikkelingsbank het beraam dat die visserysektor jaarliks $24 miljard genereer en werk aan 12 miljoen mense verskaf. Die Nairobi-konvensie beklemtoon ook die potensiaal vir kus- en mariene toerisme, en wys daarop dat dit in Suid-Afrika alleen na verwagting $1,4 miljard sal bydra en 116 000 werksgeleenthede teen 2026 sal verskaf. Die Afrika-unie (AU) beraam dat hierdie ekonomie teen 2030 minstens $400 miljard werd sal wees en meer as 55 miljoen werksgeleenthede sal bied. Gevolglik het die AU 'n Blou-ekonomie-afdeling gestig met die doel om bestaande sektore van die blou-ekonomie te optimaliseer en nuwe sektore te ontsluit.
Die Afrika-oseane (binne die Eksklusiewe Ekonomiese Sones) beslaan ongeveer 13 miljoen vierkante kilometer in vergelyking met die vasteland se landmassa van ongeveer 30 miljoen vierkante kilometer. Afrika se kuslyn strek oor ongeveer 30 000 kilometer en sowat 150 miljoen mense woon in kusgebiede. Afrika se oseaan-ekonomie het die potensiaal om miljoene mense uit armoede te lig deur die produksie van 'n groot verskeidenheid mariene-gebaseerde goedere en dienste – bygesê, as hierdie ekonomie volhoubaar kan groei.
Al die gebruiklike uitdagings wat ons oseane in die gesig staar, sal by die VN se komende Oseaan-konferensie onder die loep geneem word. Dit sluit in die verergerende impak van klimaatsverandering; plastiekafval; die plaag van onwettige, onaangemelde en ongereguleerde industri?le visvangs; die potensieel verwoestende effekte van oortoerisme; en die verspreiding van indringerspesies. Kan hierdie bedreigings vir 'n volhoubare oseaan-ekonomie aangepak word? Kan mariene ekosisteme beskerm word en wilde mariene hulpbronne volhoubaar benut word? Die oseaan-ekonomie is 'n hoogs komplekse stelsel en die konferensie se konsepverslag kom tereg tot die gevolgtrekking dat “Holistiese beleide en ge?ntegreerde bestuur nodig is om gesonde en produktiewe oseaan-ekosisteme te verseker, terwyl die volhoubare langtermyngebruik van mariene en kusbronne moontlik gemaak word." Die identifisering van die menigte bedreigings, assessering van hul diverse impakte, ontwikkeling van holistiese beleide, en implementering van ge?ntegreerde bestuurstelsels is geen maklike taak nie. Vir baie mense kan dit so oorweldigend lyk dat hulle moed opgee oor die moontlikheid om ooit volhoubare oplossings te vind.
In die aangesig van hierdie uitdagings, reageer die gashere van Wêreld-oseanedag 2025 tereg:
As die waarskuwings ons nie kon motiveer nie, sal verwondering. Die oseaan se wonder is wat ons aantrek en voortdurend ons begeerte aanvuur om dit te beskerm… Met al hoe groter wordende uitdagings wat voorlê, herinner die daad van verwondering ons daaraan dat ons deel is van iets groter. Dit maak ons bewus van ons inherente konneksie met die aarde en met mekaar…
Die oseaan-ekonomie ontsluit hierdie wonder vir die miljoene mense wat in Afrika se kusgebiede woon. Dit stel die oseaan oop vir entrepreneurs, innoveerders en beleggers; vir klein en middelslagondernemings; en vir markte oor die vasteland heen en verder. Met goeie bestuur, inklusiewe toegang, aanspreeklikheid en deursigtigheid kan 'n moderne oseaan-ekonomie die wonders van die oseaan vir die generasies wat volg, bewaar. Ja, dit is kompleks en uitdagend, maar dit is inderdaad 'n wonderlike geleentheid.
*Dr Francis Vorhies is die mededirekteur van die Afrika Wildlewe-ekonomie Instituut aan die Universiteit Stellenbosch.?