Ter viering van Jeugmaand plaas die Jong Alumni-program (YAP) aan die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig op ons ongelooflike jong alumni. Ontmoet van ons merkwaardige Maties onder 35 jaar, wat hul US-verworwe kennis en vaardighede gebruik om grense te verskuif en werklik ’n impak in verskeie velde te maak.
Kamryn Smith skroom nie om haar stem te laat hoor nie – of dit nou is om 'n voormalige Suid-Afrikaanse president te vermaan, of om vroueregte in mansgedomineerde ruimtes te bepleit.
Dié alumna van die Universiteit Stellenbosch (US) – sy het in 2020 'n BA (Internasionale Betrekkinge) en in 2022 'n Honneursgraad (Internasionale Betrekkinge en Politieke Wetenskap) verwerf – is tans besig met baanbrekerswerk in die hernubare energiesektor as 'n senior belanghebbendebestuurder by Zero Carbon Charge. Dié maatskappy beoog om Suid-Afrika se e-mobiliteitsektor te dekarboniseer deur 'n nasionale netwerk van ultravinnige sonkrag-aangedrewe laaistasies vir elektriese voertuie te ontwikkel.
Kamryn se rol behels die bou en instandhouding van verhoudings met eksterne belanghebbendes, private beleggers en burgerlike organisasies om pogings tot klimaatvriendelike infrastruktuurontwikkeling te belyn. Sy is ook betrokke by die ontwikkeling van geleenthede vir samewerking en uitbreiding.
“Wat ek die meeste geniet, is die tasbare impak van ons werk. Ons praat nie net van verandering nie; ons is aktief daarby betrokke. Ek was ook bevoorreg om my maatskappy te verteenwoordig deur vergaderings van belanghebbendes toe te spreek."
Voor dit, net voor sy haar studies voltooi het, het sy 'n internskap by die Belgiese maatskappy Hozint gedoen waar sy as ontleder van politieke risiko- en bedreigingsintelligensie gewerk het. Ná sy haar graad verwerf het, het sy vir die US se Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling as programadministrateur gewerk. Daarna het sy as senior studenteadviseur in studentewerwing by Varsity College gewerk.
Maar Kamryn se reis as 'n veranderingsmaker het baie vroe?r begin. Op slegs 17 het sy opslae gemaak met 'n ope brief aan die destydse president Jacob Zuma, wat landwyd gepubliseer is. Daarin het sy Zuma se leierskap gekritiseer en hom versoek om te bedank.
“As ek terugkyk, was dit die eerste keer dat ek besef het hoe kragtig dit is om my stem te gebruik om leierskap aanspreeklik te hou, dialoog te inspireer en geregtigheid te bevorder," sê Kamryn.
Sy beskou Jeugmaand as 'n oproep tot aksie vir jonger stemme om sistemiese hindernisse te oorkom en leierskap in elke sektor te herdefinieer.
“Ek sien myself – en my generasie – as brugbouers. Ons het die vermo? om idealisme met pragmatisme te verenig en om innovasie te dryf, terwyl ons die behoefte aan inklusiewe, doelbewuste groei eerbiedig. Ons moet verseker dat beleid en ontwikkeling nie net volhoubaar is nie, maar ook sosiaal regverdig. Ek wil hê ons generasie moet bekend staan daarvoor dat ons met dringendheid, moed en deernis optree."
Sy voeg by: “As 'n jong vrou van kleur in ruimtes wat dikwels deur mans oorheers word, het ek geleer dat ek weerstand kan bied deur bloot net op te daag. Maar om op te daag is nie meer genoeg nie – ons verdien meer. Ons verdien om te lei, te be?nvloed en stelsels te bou wat die volle diversiteit van ons land weerspie?l."
Kamryn het ook 'n aantal ambisieuse persoonlike doelwitte vir haarself gestel.
“In die toekoms wil ek graag my invloed in ontwikkelingstruktuur verdiep deur betrokke te raak by die openbare-private kruising van ekonomiese ontwikkeling, sosiale geregtigheid en geslagsgelykheid. Ek beoog ook om meer leierskaprolle aan te neem – hetsy in die openbare of multilaterale ruimte – waar ek beleide kan vorm wat mense en die planeet kan bevoordeel. 'n Langtermyndroom is om Suid-Afrika op die wêreldverhoog in ontwikkelingsamewerking te verteenwoordig."
Fotograaf: Vishen Ramgobin