肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bedryfsingenieurswese bied ’n blink toekoms aan vroue
Outeur: Sara Grobbelaar
Gepubliseer: 23/06/2025

?Bedryfsingenieurswese bied fantastiese loopbaangeleenthede vir vroue. Bedryfsingenieurs werk in vervaardiging, mynbou, logistiek, gesondheidsorg, landbou, onderwys, finansies en meer. Baie brei ook uit na innovasiestrategie, datawetenskap en volhoubaarheid of neem rolle aan in die staatsdiens en sosiale sektore. Só skryf prof Sara Grobbelaar van die Departement Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch in ? meningsartikel vir die Cape Argus ter viering van die Internasionale Dag vir Vroue in Ingenieurswese wat jaarliks op 23 Junie gedenk word.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Sara Grobbelaar*

Die Internasionale Dag vir Vroue in Ingenieurswese, wat jaarliks op 23 Junie gedenk word, vier die bydraes van vroue in ingenieurswese en moedig meer meisies en vroue aan om loopbane in dié rigting te volg. Die tema vir 2025, #TogetherWeEngineer, beklemtoon die gesamentlike pogings van vroulike ingenieurs wêreldwyd om innovasie te dryf en positiewe verandering te bevorder.

Terwyl ons op hierdie Dag vir Vroue in Ingenieurswese veerkragtigheid, leierskap en vooruitgang vier, is dit belangrik om nie net te besin oor die bemoedigende vordering op die weg na geslagsgelykheid in ingenieurswese nie, maar ook oor waarom ingenieurswese – en veral bedryfsingenieurswese – 'n fantastiese loopbaankeuse vir vroue is. Hoewel daar steeds hindernisse vir billike toegang in baie ruimtes bestaan, beweeg tendense in die regte rigting. Vroue betree nie net STEM-velde (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) in groter getalle nie; hulle transformeer dit van binne, bring vars perspektiewe en maak 'n blywende impak.

By my instelling, die Universiteit Stellenbosch, illustreer die vordering binne die Fakulteit Ingenieurswese oor die afgelope dekade hierdie tendens. In 2015 was slegs 26% van die akademiese personeel vroue. Teen 2024 het daardie syfer gestyg tot 35%. Vroulike voorgraadse inskrywings het gegroei van 23% tot 32%, en op nagraadse vlak, van 17% tot 31%. Oor dissiplines heen is daar tekens van werklike verandering. In Chemiese Ingenieurswese maak vroue nou 57% van voorgraadse studente uit – 'n volledige ommekeer van vroe?re geslagsongelykhede. In Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese – tradisioneel een van die mees manlik-gedomineerde velde – het die getal vroulike akademiese personeel byna verdubbel, en vroulike nagraadse inskrywings het ook aansienlik toegeneem.

Bedryfsingenieurswese is 'n merkwaardig inklusiewe studie- en werksarea, met 43% van akademiese personeel nou vroue – 'n toename van 26% in 2015 – en sterk groei in sowel voorgraadse (44%) as nagraadse (33%) vroulike inskrywings. Maar die saak vir vroue in bedryfsingenieurswese strek verder as verteenwoordiging – dit lê in die unieke sterkpunte en geleenthede wat die veld bied.

Eerstens, bedryfsingenieurs ontwerp en verbeter stelsels om dinge beter te laat werk – hetsy in terme van spoed, kostedoeltreffendheid, veiligheid of volhoubaarheid. Van die optimalisering van pasi?ntevloei in hospitale tot die transformasie van voedselverspreidingsnetwerke, die skep van veranderingsbestuursprogramme in 'n bank, of die vaartbelyning van logistiek in groot korporasies, die werk is prakties en het 'n meetbare impak op mense se lewens.

Tweedens, bedryfsingenieurswese is 'n uitsonderlik veelsydige loopbaankeuse. Dit is nie beperk tot 'n enkele sektor of bedryf nie. Jy sal bedryfsingenieurs kry wat werk in vervaardiging, mynbou, logistiek, gesondheidsorg, landbou, onderwys, finansies en meer. Baie brei ook uit na innovasiestrategie, datawetenskap en volhoubaarheid of neem rolle aan in die staatsdiens en sosiale sektore.

Derdens bied die veld internasionale buigsaamheid. Anders as dissiplines soos regte of medisyne – wat dikwels gebind is aan plaaslike kwalifikasies, regulasies, en praktyke – rus ingenieurswese, en veral bedryfsingenieurswese, jou toe met gereedskap en benaderings wat wyd toepasbaar is oor jurisdiksies heen. Dit maak dit 'n uitstekende keuse vir vroue wat geografiese mobiliteit in hulle loopbane soek.

Vierdens, bedryfsingenieurswese is inherent aanpasbaar by veranderende loopbaandoelwitte. Jy kan jou pad kies, hetsy in tegniese kundigheid of een wat besigheid, operasionele bestuur of leierskap beklemtoon. Die veld kombineer wiskunde, wetenskap en data met besigheidstrategie, kommunikasie en spandinamika. Dit gaan oor die ontwerp en bestuur van hoe mense en prosesse saamwerk—ideaal vir diegene wat daarvan hou om werklike probleme op te los met struktuur én kreatiwiteit.

Laastens, nagraadse studie in bedryfsingenieurswese bied talle groeigeleenthede. Ons verwelkom mense van 'n wye verskeidenheid STEM-agtergronde – ek het al studente begelei met opleiding in voedselwetenskap, medisyne en ander toegepaste wetenskappe. As jy jou bestaande kennis wil aanvul met bedryfsingenieurswese-gereedskap en stelseldenke, kan 'n nagraadse kwalifikasie nuwe deure oopmaak. Dit is 'n ideale manier om dissiplines te oorbrug en ingenieursmetodes toe te pas op uitdagings in gesondheid, voedsel, volhoubaarheid en ander terreine.

Ten slotte, vroue maak ongetwyfeld vordering. Die getalle spreek vanself. Meer vroue studeer ingenieurswese. Meer onderrig, doen navorsing en lei. Meer bou maatskappye, be?nvloed beleid en mentor die volgende generasie.

Transformasie gaan nie net daaroor om teikens te bereik nie; dit gaan oor die vorming van die stelsels, kulture en geleenthede wat definieer wat moontlik is. Dit is waar bedryfsingenieurswese iets kragtig het om te bied: die vryheid om jou bedryf te kies, vir wie jy werk, waar jy bly en wat jy doen.

So, aan al die vroue wat vra of daar 'n plek vir hulle in ingenieurswese is: weet dat daar nie net 'n plek vir jou is nie – daar is 'n behoefte aan jou. Ons toekoms in ingenieurswese is inderdaad baie blink.

*Sara Grobbelaar is 'n professor in die Departement Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.?