肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe spilpunt vir wetenskap gereed om SA-navorsing te transformeer
Outeur: Desmond Thompson
Gepubliseer: 11/09/2025

?Die amptelike opening van die hoofkwartier van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) aan die Universiteit Stellenbosch (US) is 'n mylpaal vir Suid-Afrikaanse wetenskap.

Die bekendstelling (9–11 September 2025) het navorsers, beleidmakers, studente en internasionale gaste byeengebring vir 'n reeks aanbiedings oor wetenskaplike fokusareas, werkswinkels en openbare geleenthede, insluitend 'n werkswinkel in masjienleer en 'n verhoogproduksie.

NITheCS word via die Nasionale Navorsingstigting (NRF) deur die Departement Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (DSTI) gefinansier. Dit is die eerste van Suid-Afrika se nuwe nasionale navorsingsinstitute, wat SARChI-navorsingsleerstoele en Sentrums van Uitnemendheid (CoEs) komplementeer deur samewerking in groter, ge?ntegreerde entiteite te konsolideer. Dié benadering gee uitvoering aan die 2019 Witskrif oor Wetenskap, Tegnologie en Innovasie en die DSTI se 2022–32 Dekadeplan.

NITheCS snoer Suid-Afrika se 26 openbare universiteite en die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS) saam. Die naaf is aan die US, en daar is vyf ko?rdinerende nodusse – aan die universiteite van Kaapstad, KwaZulu-Natal en die Witwatersrand, sowel as die Nelson Mandela- en Noordwes-universiteite.

Met wiskunde as fondament, dek NITheCS 'n wye reeks dissiplines – van sterrekunde en astrofisika tot bioinformatika, datawetenskap, klimaatsveranderingsmodellering, kwantitatiewe finansies, statistiek en teoretiese fisika. Die netwerk het landwyd al tot 400 medewerkers gegroei.

Kapasiteitsbou deur samewerking

Imraan Patel, Adjunk-Direkteur-Generaal van die DSTI, het Suid-Afrika se navorsingstelsel as 'n "juweel" beskryf en gesê wetenskap, tegnologie en innovasie moet aan die kern van die regering, bedryf, onderwys en samelewing wees. Hy het beklemtoon dat die doelwit nie losstaande "eilandjies van uitnemendheid" is nie, maar grootskaalse programme wat impak vermenigvuldig.

Prof Deresh Ramjugernath, Rektor van die US, het gesê NITheCS plaas Suid-Afrika aan die voorpunt van globale wetenskap. "Hierdie spilpunt is gereed om 'n baken van samewerking, uitreik en innovasie te word. Dit sal nuwe navorsingsrigtings vestig, jong wetenskaplikes betrek en ons netwerke regoor Afrika en wêreldwyd uitbrei."

NITheCS Direkteur Prof Francesco Petruccione het gesê: "Vandag is 'n mylpaal, want dit gaan nie net daaroor om die lint te knip vir ons nuwe kantore nie, maar om ons visie te deel." Hy het verduidelik die instituut se "pandissiplinêre" benadering behels om nie in silo's te werk nie, maar om te begin met probleme wat opgelos moet word, en dan die nodige vakrigtings te betrek.

Die bekendstelling het tien navorsingsgebiede in die kollig geplaas, insluitend kwantumtegnologie? en masjienleer, klimaatmodellering, kompleksiteit in biologiese stelsels en Afrosentriese gesondheid.

Prof Langa Khumalo, Hoofdirekteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR), het gesê dis belangrik om te verseker dat Afrikatale nie gemarginaliseer word nie. Die sentrum werk met NITheCS saam om infrastruktuur, datastelle en digitale gereedskap te ontwikkel om sprekers van hierdie tale in staat te stel om ten volle aan wetenskap en tegnologie deel te neem.

Ondersteuning van die volgende generasie

Petruccione het NITheCS beskryf as "'n dorp wat die volgende generasie studente grootmaak om die leiers van m?re te word."

Meer as 800 studente van byna 50 instellings regoor Afrika is al opgelei deur middel van rekenaarprogrammeringskole wat saam met die Sentrum vir Ho?prestasierekenaars (CHPC) aangebied word, het die direkteur van dié struktuur, Mervyn Christoffels, gesê.

In 2024 is 67 nagraadse studente van 17 instellings betrek by gespesialiseerde kursusse wat aanlyn deur NITheCS aangebied is. Die instituut se Suid-Afrikaanse Teorie- en Berekeningskool het 'n wêreldklasplatform geword waardeur studente vir gevorderde navorsing en globale mededingendheid toegerus word.

Uit 69 aansoeke is 23 studente gekies vir die 2024/25 NITheCS-internskapprogram, wat by die WNNR en verskeie universiteite aangebied word.

In 2024 is 39 kollokwiums, 15 skole en miniskole, 67 seminare en webinare, 11 werkswinkels en twee meesterklasse aangebied. In dieselfde jaar het NITheCS MSc- en PhD-beurse van altesaam R4,8 miljoen toegeken.

Nuwe ontdekkingsreis

NITheCS het ontstaan uit die vroe?re Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika, met die oorgang wat in 2020/21 begin het. In 2023 het die DSTI en NRF die US-gesentreerde konsortium goedgekeur om die nuwe instituut te huisves.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor vir Navorsing aan die US, het alle betrokkenes gelukgewens met “die visie en energie om hierdie bre? platform te bou."

Gassprekers by die bekendstelling het ingesluit dr Maria Schuld, 'n navorser by die Kanadese maatskappy Xanadu, wat aangevoer het dat ontwrigtende wetenskap vryheid vereis: “Grootsheid kan nie beplan word nie – die belangrike ding is om 'n sterk missie te hê."

Prof Matthias Troyer, Korporatiewe Visepresident by Microsoft Quantum en ereprofessor aan die US, het uiteengesit hoe die kombinasie van kunsmatige intelligensie, ho?prestasie-rekenaars en kwantumrekenaars navorsing radikaal versnel.

Platform vir die toekoms

NITheCS se nuwe hoofkwartier in die US se Merensky-gebou vir Fisika bied kantore, seminaarkamers, studenteruimtes en vergaderfasiliteite – maar sprekers het beklemtoon dat die instituut se impak nie in steen en beton gemeet sal word nie.

Soos Patel dit gestel het: “Ons moet wys hoe sterk ons navorsing is deur ons belangrikste maatskaplike uitdagings die hoof te bied." Hy het die idee van 'n “maatskaplike bedryfslisensie " beklemtoon – om te verseker dat strukture soos NITheCS op ontwikkeling fokus.

NITheCS is ontwerp om kapasiteit in die basiese wetenskappe te konsolideer, opleiding en mentorskap te bevorder, histories benadeelde instellings te versterk, en geleenthede vir jong navorsers te skep.

“Die werklike uitdagings van NITheCS is nie tegnies nie, maar menslik," het Petruccione afgesluit. “Ons moet anders dink, ons ego's eenkant toe skuif en saamwerk. As ons kragte saamsnoer, kan ons groot uitdagings oplos."

ONDERSKRIFTE:

NITheCS SU. Group 2. PIC Nina Laubscher SCPS:
Agter, van links: Giulio Mignacca van die Italiaanse Ambassade; dr Maria Schuld van Xanadu; Mervyn Christoffels van CHPC; die Venda-hoofman Muelekanyi Mashudu Tshivhase; prof Deresh Ramjugernath, Rektor van die Universiteit Stellenbosch (US); prof Zeblon Vilakazi, Wits se Rektor; prof George Ellis van UCT; prof Francesco Petruccione, Direkteur van NITheCS; en Zhao Hongtao van die Chinese Konsulaat in Kaapstad.

?